Skip to main content

Kies Jou Onkuiddoder Van Die Begin Af Reg Met Syngenta

Onkruide is een van die mees beperkende faktore in gewasverbouing, en kan oesverliese van tot 70% veroorsaak.  Onkruidbeheer raak al hoe meer van ‘n uitdaging, veral waar weerstandsprobleme voorkom.  `n Paar kritiese faktore wat in ag geneem moet word om onkruid doeltreffend te beheer, is onder meer die tipe onkruid, groeistadium van die onkruid, groeistadium van die gewas en omgewingstoestande.  Wanneer onkruiddoders gekies word is dit belangrik om die werking daarvan te vestaan.

 

Tyd van toediening wanneer gras ‘n probleem is, bepaal die effektiwiteit van jou grasdoder.  Die meeste grasdoders behoort aan die chloro-asetanelied groep.  Die aktiewe bestanddele in hierdie groep word opgeneem deur die koleoptiel van saailinge wat net begin ontkiem, en sal min invloed hê op gras wat reeds opgekom het.  Grasdoders wat op hierdie manier werk, moet op die regte tyd gespuit word, verkieslik net na plant, om te verseker dat die aktiewe bestanddeel sy teiken (koleoptiel) bereik. 

 

‘n Fyn saadbed word ook aanbeveel.  Dit voorkom dat die aktiewe bestanddeel in kluite vasgevang word en help dat die onkruiddoder homogeen in die grondprofiel inwas sodat kiemende grassade doeltreffend beheer kan word. Met hierdie groep onkruiddoders speel grondvog ‘n deurslaggewende rol, siende dat hul aktiewe bestanddele deur water in die grondprofiel geaktiveer moet word om deur die koleoptiel opgeneem te kan word.

 

In teenstelling word breëblaar-onkruiddodders meestal deur stingels en blare opgeneem.  Dié onkruid moet egter nie groter as twee- tot vier blaarstadium wees met toediening van onkruiddoders nie, aangesien laat-toediening tot wisselvallige effektiwiteit kan lei. Nie-selektiewe onkruiddoders wat byvoorbeeld glifosaat of parakwat bevat, moet toegedien word op onkruid wat aktief groei omdat hulle die ensiem-prosesse in die plantsel versteur.

 

BIOLOGIE VAN ONKRUIDE

Die diepte van onkruidsaad in die grond bepaal ook die keuse van onkruiddoders.  Onkruide kan vlak (0 – 5 cm) of diep ontkiemers (>5 cm) wees, en dit is belangrik om die regte produk vir die verskillende soorte te gebruik.  Vlak ontkiemers, soos knopkruid (Galinsoga parviflora) (Foto 1) en misbredie (Amaranthus hybridus) (Foto 2), reageer op produkte wat terbutielasien bevat omdat die aktiewe bestanddeel nie diep in die grondprofiel loog en dus naby die teiken sal wees.  Waar dieper ontkiemers soos olieboom (Datura sp.) (Foto 3) voorkom, is atrasien-bevattende produkte ‘n beter keuse omdat hul aktiewe bestanddeel dieper in die grond loog.    

Die fisiese eienskappe van onkruide kan ook die werking van sekere onkruiddoders beïnvloed.  Wasagtige blaaroppervlaktes of smal tot naaldvormige blare voorkom die behoorlike benatting, verspreiding en indringing van veral wateroplosbare onkruiddoders.  Withondebossie (Chenopodium album) (Foto 4) is ‘n goeie voorbeeld van so ‘n onkruid.  In hierdie geval moet ‘n benatter by die tenkmengsel gevoeg word en moet die produsent seker maak dat die onkruid word behoorlik bedek vir maksimum effekiwiteit. 


Foto 1: Voorbeeld van vlak ontkiemer knopkruid (Galinsoga parviflora)


Foto 2: Voorbeeld van vlak ontkiemer misbredie (Amaranthus hybridus)


Foto 3: Voorbeeld van `n diep ontkiemer, Olieboom (Datura ferox)


Foto 4: Withondebossie (Chenopodium album) (Dr. Elbe Hugo) is `n voorbeeld van `n onkruid wat se blaaroppervlakte moeilik gepenetreer word.

TENKMENGSELS

Die invloed wat tenkmengsels van landbouchemiese middels, veral onkruiddoders op gewasproduksie het, word dikwels onderskat. Die vermenging van alle produkte moet streng volgens registrasievoorskrifte geskied. Elke produk-etiket het ‘n afdeling oor mengbaarheid/menginstruksies wat uiteensit wat gemeng kan word en in watter volgorde chemiese middels by ‘n tenkmengsel gevoeg moet word. Landbouchemiese middels kan nie net lukraak met mekaar gemeng word nie. Wanneer produkte verkeerd gemeng word, kan dit hul werking of inhibeer of verhoog, wat tot gewasskade of ondoeltreffende beheer kan lei. Dit is dus nie die produkte wat foutief is nie, maar die tenkmengsel.  Die invloed van ‘n tenkmengsel is ook gewoonlik nie dadelik sigbaar nie, maar eers tydens strooptyd, of selfs eers die volgende seisoen waar landbouchemiese middels dalk ‘n lang nawerking het en in die grond agtergebly het.

 

ANDER FAKTORE

`n Belangriker bepaler van effektiewe onkruidbeheer is die gehalte van water wat in tenkmengsels gebruik word.  Wanneer die water se pH te hoog of te laag is, kan dit onstablitieit in die tenkmengsel veroorsaak.  Water met ‘n pH van 3,5 tot 6 werk goed saam met meeste produkte.  Die mate waartoe die produk oplos in water, is van deurslaggewende belang. Gronddeeltjies en organiese materiaal verhinder dat sommige onkruiddoders genoegsaam in oplos omdat die produk aan die onsuiwerhede bind.  Onkruiddoders los ook nie behoorlik op in “harde water” nie, en sal nie die beste moontlike resultate lewer nie.

Dit is duidelik dat onkruidbeheer deeglike beplanning verg.  Begrip van die onkruidprobleem is belangrik sodat die regte onkruiddoder op die regte tyd toegedien word. Die aanwysings op die etiket moet noukeurig gevolg word en streng by die aanbevole dosisse gehou word.  Sodoende sal skade aan die gewas voorkom word, en sal die produk die doeltreffendste wees. `n Te lae dosis chemikalieë kan lei tot wisselvallige of swak onkruidbeheer.  Dit kan ook daartoe bydra dat die onkruid weerstand opbou weens seleksie teen ‘n sekere aktiewe bestanddeel.

Kontak gerus jou naaste Syngenta®.

Archived Posts

2024 (1)
2023 (1)
2022 (1)
2021 (1)
2020 (1)
2019 (1)
2018 (1)
2017 (1)
agricultural products