Skip to main content

Saai Bring ’N PAIA-Aansoek Teen Departement Van Water En Sanitasie Oor Waterregte

Saai het vandag ’n formele aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Inligting (PAIA) teen die Departement van Water en Sanitasie (DWS) gebring wat toegang tot inligting versoek om sodoende deursigtigheid oor die data waarvolgens die departement vasgestel het dat 98% van alle waterregte aan wit mense behoort, af te dwing..

Dié statistiek word deur DWS gebruik om sy omstrede regulasies te regverdig waarvolgens wit boere 25% tot 75% van hulle ondernemings aan swart begunstigdes moet afstaan om waterlisensies te verkry. Sipho Skosana, direkteur van watertoekennings by die departement, het aan die TV-nuuskanaal eNCA gesê dat hulle navorsing daarop dui dat 98% van Suid-Afrika se waterhulpbronne aan wit mense behoort, terwyl dit die minister se mandaat is om te verseker dat watergebruiksregte die samestelling van die bevolking moet weerspieël.

Buiten die Vatikaanstad in Rome is daar geen ander land ter wêreld waar watergebruiksregte die bevolkingsamestelling weerspieël nie. In Suid-Afrika kan die 65% van die bevolking wat in stede woon, niks met ’n gelyke verdeling van die land se waterverbruiksregte doen nie, terwyl die boere in die platteland geen kos sonder water kan produseer nie.

Die waarde van- en beleggings in waterinfrastruktuur soos besproeiingstelsels, opgaardamme, kanale en verspreidingsnetwerke, asook aanspreeklikheid vir die uitstaande skuld daarop, word nie deur die departement aangespreek nie, en ook nie die prys wat vir waterregte betaal is nie.

Saai bevraagteken die departement se statistiek omdat daar geen deursigtigheid in die navorsing, die data, die metodiek, of die spesifieke resultate per opvangsgebied was nie, en dat dit daarom onmoontlik is om die statistiek te verifieer.

Dit strook egter ook nie met data uit ander departemente, die sentrale statistiekdiens of enige ander staatsinstelling nie. Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het aan die parlement gerapporteer dat ongeveer 9% van kommersiële plaasgrond deur die restitusie- en herverdelingsprogramme aan swart begunstigdes oorgedra is. Veel meer is in private transaksies aan swart, bruin- en Indiër-boere oorgedra. In Oktober 2017 het Landbouweekblad in sy omvattende navorsingsresultate getoon dat 26,7% van Suid-Afrikaanse plase, en 46% van die produksiepotensiaal (m.a.w. waterryke gronde) in swart besit is. Saai wil weet of al hierdie plase sonder waterregte oorgedra is en indien wel, waarom?

 

Die implikasie van die departement se statistiek is dat alle plaaseienaars wat nie wit is nie, gesamentlik 2% van alle waterregte besit, maar hulle besit dit nie alleen nie. Die waterregte van miljoene kommunale kleinskaalboere wat op die 14% van Suid-Afrika in die tradisionele stamgebiede, die voormalige tuislande, boer moet ook  dáárbý ingereken word. Saai eis ook die data oor die waterregte wat aan myne, nywerhede, bewaringsgebiede en nedersettings toegeken is en waar dit in die oorblywende 2% inpas.

Dit is onduidelik hoe staatswater, water in die 26% van die oppervlakte van Suid-Afrika wat aan die staat behoort en water vir primêre verbruik in dorpe en stede, in die departement se statistieke verreken is.

Die departement word daarvan verdink dat hulle die data van die publiek probeer weerhou omdat dit nie wetenskaplik verantwoordbaar is nie.

 

“Daar is ’n moontlikheid dat senior amptenare in die departement nie weet wat die ware toedrag van sake is nie en so min van waterhulpbronne en -verbruik verstaan dat hulle regtig onder die indruk verkeer dat 98% van alle waterregte aan wit mense behoort,” sê  dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. “Al wat meer skrikwekkend as hierdie scenario is, is dat die departement se bestuur wél weet wat die werklike watersyfers is en dit moedswillig verdraai om in die aanloop tot die 2024-verkiesings rassespanning aan te blaas, die lewensbestaan en werkgeleenthede van honderdduisende mense te saboteur en met ’n populistiese aanslag Suid-Afrika verder wil polariseer.”

 

“Deur die departement met ’n hofaansoek te dwing om die data in die openbare domein te plaas en aan wetenskaplike ondersoek te onderwerp, wil Saai vasstel wat die departement se agenda, vermoë en doeltreffendheid is,” sluit De Jager af.

 

Archived Posts

2024 (1)
2023 (1)
2022 (1)
2021 (1)
2020 (1)
2019 (1)
2018 (1)
2017 (1)
Saai