Skip to main content
Sakeliga KragDag

KragDag: Die Groeiende Behoefte Na Energieselfstandigheid

Op 11-13 Augustus 2022 is die dertiende Sakeliga KragDag op die Diamantvallei Landgoed terrein, sowat 20km oos van Pretoria aangebied.

 

Die Sakeliga KragDag ekspo se getal uitstallers het sedert verlede jaar se ekspo met 23% gegroei, van 470 ondernemings tot 580 vanjaar. Soortgelyk het die bywoningsyfer met 47% gegroei van 21 000 tot 30 900 vanjaar. Alhoewel syfers ‘n waardevolle telkaart is en navraag oor bywoningsgetalle gewoonlik die eerste vraag is wat na ‘n ekspo gevra word, word die meting van sukses in die wêreld waarin ons leef te dikwels gereduseer tot getalle. Veel belangriker vir KragDag is die impak wat die ekspo maak om binne die konteks van die Skepper se Kultuuropdrag mense te inspireer om met kreatiewiteit self verantwoordelikheid te neem vir hulle gesinne se lewens, hulle toe te rus met oplossings om ‘n lewe van staatsbestandheid en selfbevrediging te leef en om deur entrepreneuriese transaksies beide verkopers van tegnologie en die kopers daarvan, beter daaraan toe te laat wees.

Vanjaar se ekspo leuse was “Soms vlug, soms ingrawe ... maar altyd bou!” Dit verreken die strategiese kompleksiteit waarmee ons, sonder prysgawe van waardes, met staatshindernisse moet omgaan, terwyl ons, ongeag die omstandighede, altyd ‘n bou-visie het. Soos die KragDag leuse sê “Doen jou eie ding!” – dit is ‘n leefstyl. By die KragDag ekspo lewe die atmosfeer hiervan en maak dit dat baie mense hierdie ekspo beskryf as ‘n ekspo van hoop.

Die Landbou sub-ekspo in samewerking met TLU is vanjaar vir die derde maal aangebied en het ook heelwat gegroei tot meer as 100 uitstallers, met ‘n arena- en skouringprogam, asook ‘n hoenderuitstalling.

In samewerking met Solidariteit Helpend Hand is die eerste Kou- en Kunsmark aangebied, waar ‘n groot verskeidenheid handgemaakte produkte verkoop is.

Die jaarlikse Junior Entrepreneurskompetisie is vanjaar deur Fergusmor, Solidariteit Helpende Hand en Cocre8 Wealth geborg, met ‘n totale prysgeld van R21 000 asook besigheidsafrigting. Die Doelgerig afdeling is deur Bobbelbrou gewen en die Voete Natmaak afdeling is deur Cara en Hannah Grobler gewen.

Dit was ook die eerste jaar wat besoekers met ligte vliegtuie kon land by Rhino Park en met ‘n pendeldiens vervoer word na die ekspoterrein.

 

Van die hoogtepunte het die volgende ingesluit:

  • Bedrede boogskiet deur die Barebow Mounted Archers in die Inyati Arena.
  • Genesis K9 Group se misdaadbekamping hondedemonstrasies.
  • Taco Kamstra se ritte op sy gewilde 1910 Highwheeler.
  • ‘n Boerboelskou.
  • Die Toyota SA Jong Afslaerskompetisie se streeksuitdunne, aangebied deur Veeplaas.
  • Verskeie buitelugkragtoerusting kompetisies.
  • ‘n Wye verskeidenheid aktuele en insiggewende selfstandigheidsaanbiedings in die Raadsaal.

 

“Uitstekende verskeidenheid van idees en middele om 'n selfstandige bestaan te ontwikkel, asook landbou afdeling. Allerhande vermaak ook vir die hele gesin van jonk tot oud.”

  • Terugvoer van Willem Boshoff op Google.

 

KragDag will graag elke borg, vennoot, uitstaller en besoeker bedank, waarsonder hierdie lewensveranderende ekspo nie moontlik sou wees nie.

 

Dagboek solank die datum: Met 9 Augustus se openbare vakansiedag wat volgende jaar op ‘n Woensdag val, word die Sakeliga KragDag ekspo van 2023 vir die eerste keer na vier dae verleng en sal dit DV plaasvind van 9 tot 12 Augustus 2023. Aansoeke vir uitstallers open binnekort.

 

Navrae kan gerig word aan Sonè Saunders by sone@kragdag.co.za

Archived Posts

2024 (1)
2023 (1)
2022 (1)
2021 (1)
2020 (1)
2019 (1)
2018 (1)
2017 (1)
Sakeliga KragDag | agrifoodsa | Diamant Vallei | KragDag