Skip to main content
Agribusiness

Die Droogte Is Gebreek!

Januarie tot Maart is die belangrikste produksiemaande in die somerreënvalgebied en dit bepaal tot ‘n groot mate wat die landboutoestande vir die res van die jaar of seisoen gaan wees. Bo-gemiddelde reënval het vanaf ongeveer begin Januarie 2017 oor die grootste deel van die somerreënvalgebied voorgekom en die damvlakke is besig om te herstel. Enkele kolle in Mpumalanga het egter droër toestande ervaar. Hierdie goeie reën oor die res van die somerreënvalgebied het veroorsaak dat somergraangewasse tans neig na rekordopbrengste in baie gebiede.

Die grootste deel van die somergrane is tans in die kritieke blomstadium of graanvullingstadium en die goeie grondvogtoestande behoort voldoende te wees om die grane tot volwassenheid te neem. Weidingstoestande het ook baie verbeter, maar die spesiesamestelling sal nog tyd neem om weer na klimaksgewasse oor te gaan.

Die sogenaamde “hidrologiese” droogte is tans ook besig om te verbeter met damme wat sterk invloei van water ontvang het. Die meeste groot damme het in Februarie met tussen 10% en 30% gestyg en is steeds besig om vinnige invloei te ervaar. Beide die Vaaldam en Gariepdam is tans baie vol.

Ondergrondse water is ook besig om aan te vul, maar dit gaan nog tyd en meer reën vat vir volledige herstel. Ongelukkig reën dit nie geld nie en gaan die “sosio-ekonomiese” droogte nog lank vat om te herstel. Baie boere het vir meer as een jaar swak oeste gehad of moes vee verminder teen lae pryse. Alhoewel die prys van vee gestyg het, is die aanbod laag en het boere nie vee om te verkoop nie. Die graanpryse het baie skerp gedaal en dit kan baie graanboere knou, en hulle herstel vertraag of selfs meer rampspoedige gevolge inhou as die droogte. Wat die res van die somer betref lyk dit asof die huidige goeie reënvaltoestande teen die middel van Maart kan begin verswak. Dit is nie noodwendig slegte nuus nie, want dit kan help om die nodige hitte-eenhede vir somergrane te verskaf met minder wolke en hoër temperature.

Hierdie scenario kan help dat ‘n rekord mielie-oes kan realiseer. Met die nat toestande en baie vrywater kan hoër temperature in Maart sorg dat veral veesiektes en ander peste ‘n groot gevaar inhou. Die kanse vir ryp of baie lae temperature voor die middel van April is nie goed nie.  Daar is nog baie onsekerheid oor die 2017/18-somerseisoen maar voorlopige aanduidings is dat daar geneig word na neutrale tot El Nino-toestande en beslis nie na die verlenging van die huidige swak La Nina-toestande nie.

Reënvaltoestande oor die Wes-Kaap bly steeds swakker as gemiddeld, maar indien El Nino-toestande begin ontwikkel later in die jaar kan dit die kanse vir reën oor die winterreënvalgebied weer versterk, maar verswak oor die somerreënvalgebied. Die droogte in die Wes-Kaap kan dus steeds vererger vir veral die volgende maande.

Article reposted from ProAgri Mar '17.

Archived Posts

2024 (1)
2023 (1)
2022 (1)
2021 (1)
2020 (1)
2019 (1)
2018 (1)
2017 (1)
Hygiene & Cleaning | Agricultural Products Directory