Skip to main content
Sakeliga Kragdag Bring Bekende Gauteng “Kragstasie” Kaap Toe

Sakeliga Kragdag Bring Bekende Gauteng “Kragstasie” Kaap Toe

KragDag, die bekende doen-jou-eie-ding selfstandigheidsekspo, sal saam met Sakeliga as hoofborg, vir twee dae ‘n “kragstasie” in die Wes-Kaap, net buite Malmesbury oprig wanneer dié ekspo vir die eerste keer op 17 en 18 Februarie 2023 op die bekende Môreson Plaas aangebied word.

 

HP Steyn, besturende direkteur van KragDag verduidelik: “Ons tema vir 2023 is ‘Kom ons bou ‘n kragstasie’. Ons glo dat die energie wat nodig is om die snelle pas van staatsverval die hoof te bied, in gemeenskapselfstandigheid opgesluit lê. Kragprobleme word nie opgelos deur bloot ‘n kers aan te steek nie. Dit word opgelos waar individue, ondernemings en gemeenskappe by mekaar kom kers opsteek om selfstandiger te leef en sake te doen. Sakeliga KragDag is dié plek waar entrepreneurskap en tegnologie saamgevoeg word tot die grootste versameling van selfstandigheidsoplossings op elke denkbare terrein.”

 

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, die hoofborg van KragDag voeg by: “Sakeliga KragDag is ‘n kragstasie met ‘n besondere (en ononderbroke!) energie. Energie om anders te dink oor selfstandigheid. Hier kan mens praktiese planne in werking sien en belangrike treë gee na groter staatsbestandheid. Staatsbestande ondernemings skep staatsbestande sakegemeenskappe met die veerkragtigheid om ondanks staatsverval voorspoedige gemeenskappe op te rig en in stand te hou.“

 

Steyn bevestig dat alternatiewe kragopwekking ‘n groot fokus sal wees by Februarie se ekspo. “In 2020 is 844 ure beurtkrag toegepas, in 2021 het dit gestyg na 1 153 ure en vanjaar het ons reeds 2 400 ure, oftewel 100 dae van beurtkrag verbygesteek. Kragoplossings is dus dringender as ooit vantevore. Daar sal egter ‘n groot verskeidenheid selfstandigheidsoplossings vir alle lewensterreine wees. Of die uitdagings nou watertekorte, watersuiwering, voedselproduksie, onderwys of sekuriteit is, planne sal daar wees!”

 

Sakeliga KragDag is sedert 2008 al 13 keer aangebied en het van enkele, tot bykans 600 uitstallers en van etlike honderde tot meer as 31 000 besoekers in Augustus vanjaar gegroei. Steyn skryf die groei toe aan groot verskeidenheid van werkbare oplossings wat by die ekspo te siene is, maar veral ook die feestelikheid. “Daar is werklik min ekspo’s wat iets vir elkeen in die gesin bied. Ons sien daarna uit om die feestelike atmosfeer en gesinsvriendelike karakter wat besoekers in Gauteng beleef, saam te bring Kaap toe.”

 

Besoek www.kragdag.co.za vir meer inligting.

Archived Posts

2024 (1)
2023 (1)
2022 (1)
2021 (1)
2020 (1)
2019 (1)
2018 (1)
2017 (1)
Sakeliga Kragdag Bring Bekende Gauteng “Kragstasie” Kaap Toe | KragDag