Skip to main content

Nedbank Vier Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur 2023

Nedbank wens Piet Roux van die plaas Biega in die Prieska-omgewing hartlik geluk met sy erkenning as Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur vir 2023.

Nou in sy tweede jaar, gee dié projek erkenning aan veeprodusente wat passievol is oor die bewaring van hul grond en hulpbronne en klimaatslim-boerderypraktyke op hulle plase bewerkstellig. Deelnemers word volgens ses kriteria beoordeel: veld- en kuddebestuur; die bestuur van droogte en kaal gebiede; erosie en bosindringing; finansiële bestuur; en kennis rakende klimaatsverandering. Roux is gekies vir sy uitstaande veldkennis, veral met betrekking tot droogtebetuurpraktyke.

Daneel Rossouw, Hoof van Verkope by Nedbank Kommersiële Banksake, sê dit is die tweede jaar dat Nedbank hierdie belangrike toekenning borg. Dit strook ook met die bank se verbintenis om klimaatsverandering te help versag. 'Klimaatsverandering is een van die bepalende sistemiese kwessies van die 21ste eeu. Sonder dringende, daadwerklike optrede en samewerking van alle belanghebbendes sal vooruitsigte vir ekonomiese ontwikkeling, voedselsekerheid en maatskaplike welstand na verwagting versleg. As klimaatsverandering nie aangespreek word nie, sal dit 'n baie meer uitdagende en minder voorspoedige toekoms vir Afrika beteken, aangesien die kontinent hoogs blootgestel is aan fisiese impakte en dikwels nie die vermoë het om daarop te reageer nie.'

'Hierdie realiteit is bepalend vir die projekte wat Nedbank ondersteun. Strategies wil ons nie net goed wees met geld nie. Ons wil goeie dinge daarmee doen, en dié borgskap is ’n duidelike voorbeeld daarvan,' sê hy.

Rossouw voeg by dat veral die mentorskap-element Nedbank se belangstelling in die projek gewek het. 'Die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeurs wen nie net 'n aansienlike kontantprys nie, maar bied ook 'n boeredag op hul plaas aan om hul kennis met ander deelnemers en produsente te deel. Ons besef dat ons, as 'n bank, 'n verpligting en verantwoordelikheid het om uitlening in te span om verandering te bevorder, maar ons glo dat ons rol verder strek as om bloot dié oorgang te finansier. Daarom gebruik ons ons bankkundigheid en spesialisbegrip van die sektor om bewustheid oor klimaatsrisiko en volhoubare boerdery te kweek deur produsente te mentor en ons kennis te deel sodat hulle klimaatslim kan boer,' sê Rossouw.

Archived Posts

2024 (1)
2023 (1)
2022 (1)
2021 (1)
2020 (1)
2019 (1)
2018 (1)
2017 (1)
Nedbank