Skip to main content

Sukesvolle Transformasie Vereis Meer As Net Grondbesit

Transformasie van die landbousektor is nie so eenvoudig nie. Mens kan nie bloot 'n stuk grond oorhandig en die begunstigdes aansê om te begin boer nie. Suksesvolle transformasie behels 'n komplekse interkonneksie van talle kritieke faktore, waarsonder landbou-ondernemings waarskynlik sal misluk.

Dit was die oorheersende boodskap wat deur alle partye geëggo is tydens 'n onlangse media-uitstappie en paneelbespreking wat deur Nedbank Landbou en Partners in Agri Land Solutions (PALS) in Ceres gehou is.

PALS is 'n nie-winsgewende organisasie wat deur boere in Ceres, in samewerking met plaaslike gemeenskappe, ontwikkel is om opkomende swart boere te voorsien van die ondersteuning, insigte en kundigheid wat hulle nodig het om as kommersiële boere te gedy. Dié organisasie en sy werk bied 'n fundamentele afwyking van post-grondhervormingsmodelle en fokus op gesonde sakebeginsels, regstrukture, mentorskap en opleiding.

Lennox Plaatjies, nasionale skakelbestuurder vir PALS, sê die organisasie het 8 kenmerke geïdentifiseer wat 'n landbou-onderneming moet hê om as 'n PALS-projek beskou te word. En hoewel sekerheid van grondbesit 'n noodsaaklike komponent is, is dit nie belangriker as enige van die ander 7 nie. Dit behels ook 'n uitvoerbare, bankwaardige sakeplan; kennisoordrag en mentorskap; 'n regsentiteit met struktuur en ooreenkomste om alle vennote te beskerm (insluitend geskilbeslegtingsmeganismes en uittredestrategieë); sosio-ekonomiese opheffing van die mense wat die grond bewerk; kapitaal of finansiering; toegang tot markte; en 'n gevestigde belang in die bedryf. 'Ons glo vas in al hierdie faktore en daarom het ons 'n PALS-raamwerk geskep wat nou 'n geregistreerde handelsmerk en vir ons rigtinggewend is.'

 

Hierdie benadering werk. Oor die afgelope 8 jaar is daar reeds 47 suksesvolle projekte van stapel gestuur en elkeen is winsgewend. Baie van die boere voer vrugte uit na internasionale markte, wat getuig van die gehalte van die produk. 'Dit is belangrik om te onthou dat PALS nie mense help om bestaansboere te wees nie. Ons doel is om suksesvolle kommersiële boere te vestig wat volhoubare groei kan bewerkstellig om gesinne en gemeenskappe op te hef, winste vir alle aandeelhouers bied en toekomstige geslagte bemagtig om suksesvolle ondernemings voort te sit. Daarom is dit noodsaaklik om 'n gevestigde belang en grondbesit te hê. Rykdom word nie in 'n enkele generasie geskep nie. Dit is 'n langtermynbelegging, en met die PALS-benadering wil ons die lewens van vele toekomstige generasies verbeter’, sê Plaatjies.

 

Cobus de Bruyn, Hoof van Kliëntewaardevoorstelle vir Landbou by Nedbank Kommersiële Banksake, sê hoewel PALS 'n uiters suksesvolle program is, is alle belanghebbendes – insluitend banke – gefrustreerd met die beperkte toegang tot finansiering vir die sektor. 'Alle banke ondersoek maniere van hoe om die sektor te benader. Nedbank het byvoorbeeld 'n spesiale transformasie-oplossing wat finansiële asook nie-finansiële komponente bied. In samewerking met PALS word aansoeke vir transformasiekrediet anders as tradisionele uitleenkrediet beoordeel. Nedbank het ook 'n vennootskap met Hortfin  aangegaan en 'n samewerkingsooreenkoms onderteken om transformasietransaksies in die vrugtebedryf saam te finansier. Die vennootskap met Hortfin sal ook help om toegang tot finansiering makliker te maak. Vir transformasie om suksesvol te wees is dit noodsaaklik dat die hele landbouwaardeketting transformasie-inisiatiewe aktief ondersteun.

'n Regte grensverskuiwer sal egter die gemengde finansieringskema wees, wat in wese toelaefinansiering en kommersiële skuld vir swart boere of vennootskappe saamvoeg. Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het verlede jaar 'n gemengde finansieringskema van R3,2 miljard saam met die Landbank van stapel gestuur, maar die skema moet ook deur  kommersiële banke ontplooi word om wesenlike verandering mee te bring. ‘Nedbank Kommersiële Banksake het etlike jare gelede sy deelname aan die gemengde finansieringskema bevestig en wag tans op bevestiging om voort te gaan, sê De Bruyn.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz, het tydens die PALS algemene jaarvergadering, wat op dieselfde dag as die Nedbank-paneelbespreking  gehou is, gesê hoewel dit stadig is, Suid-Afrika meer vordering met grondhervorming gemaak het as wat daar geglo word. 'Gegrond op getalle van amptelike bronne word beraam dat 24% van alle plaasgrond herverdeel en grondregte herstel is. Dit is baie naby aan die mikpunt van 30% teen 2030. Sedert 1994 het swart boere byna 2 miljoen ha plaasgrond – of 2,3% van die totale eie landbougrond - sonder enige hulp van die staatsgesteunde grondherverdelingprogram bekom, wat aandui dat hulle bereid is om alles in te sit.

Uiteindelik is dit nie so eenvoudig soos om wit boere met swart boere te vervang nie. Ons moet 'n landbousektor kweek wat alle boere steun, en dit verg samewerking, toewyding en 'n gesamentlike poging van alle belanghebbendes, soos PALS so bekwaam gedemonstreer het,' sê Sihlobo.

Archived Posts

2024 (1)
2023 (1)
2022 (1)
2021 (1)
2020 (1)
2019 (1)
2018 (1)
2017 (1)
Nedbank