Skip to main content

Die Duidelike Sakevoorstel Vir Volhoubare Landbou

Volhoubaarheid gaan nie net daaroor dat die mensdom aanpas by veranderinge en maniere vind om die behoeftes van huidige generasies te bevredig, sonder om die behoeftes van toekomstige geslagte in die gedrang te bring nie: Dit bied ook aansienlike finansiële voordele aan boere.

 

Dit, in 'n neutedop, was die boodskap van 'n lewendige paneelbespreking by Nasie in Gesprek-verhoog onlangs gehou by Nampo Kaap onder leiding van Herman de Kock, Uitvoerende Hoof van Verkope en Diens by Nedbank Kommersiële Banksake. Die hoogs bekwame paneellede was Dr Johann Strauss van die Wes-Kaapse Departement van Landbou; Dr Tara Southey, stigter en HUB van die presisielandboumaatskappy, TerraClim; Fanie Ferreira, Uitvoerende Hoof van Melkprodusente-organisasie (MPO); en Shelly Fuller, Programbestuurder vir Volhoubare Landbou by WWF-SA.

 

Finansiële lewensvatbaarheid is die grootste, mees onmiddellike voordeel van volhoubare boerdery.

Elke paneellid het die skuif na volhoubaarheid ten volle ondersteun en het verwys na talle voorbeelde van boere wat finansieel voordeel trek uit goeie rentmeesterskap van hulpbronne onder hulle sorg. Ferreira, wat ook onlangs die wenner van die MPO Nedbank Rentmeesterskap-toekenning vir 2023 aangekondig het, het sy bewering dat volhoubaarheid winsgewendheid vir melkboere teweegbring, bondig saamgevat. 'Hierdie jaar het al ons finaliste genoem dat finansiële lewensvatbaarheid om volhoubaar te boer die grootste voordeel is. Die meeste melkboere in die MPO volg 'n program om meer volhoubaar te boer, en hoewel hulle verstaan dat hul aanvanklike belegging groot is, en die reis 5 tot 10 jaar kan neem, pluk hulle reeds die vrugte daarvan om eerder saam met die natuur te werk as daarteen.'

Fuller stem saam: 'Ons Bewaringskampioeneprogram is die resultaat van 'n vennootskap van meer as 20 jaar tussen Nedbank, die WWF en Suid-Afrika (SA) se wynbedryf. Die vennootskap het begin omdat die wingerde in 'n biodiversiteitsbrandpunt is en ons wou verhoed dat hulle die Wes-Kaap se unieke florarykdom bedreig. Die SA wynbedryf is nou 'n markleier in die wynindustrie, met 95% van ons wyne wat volhoubaar onder die industrie se omgewingsertifiseringskema, Geïntegreerde Produksie van Wyn (IPW), geproduseer word. Die Bewaringskampioeneprogram gee erkenning aan daardie boere wat selfs meer doen in terme van hul verbintenis tot biodiversiteitsvriendelike en regeneratiewe boerderypraktyke, die bewaring van hul natuurlike gebiede en die deurlopende verbetering van water- en energiedoeltreffendheid. 'n Mens moet noem dat, selfs nadat hulle die ergste droogte in dekades beleef het en 'n voortdurende veranderende klimaat, die meeste plase wat deel is van die Bewaringskampioeneprogram, hul produktiwiteit behou het en hul besighede van krag tot krag gaan.'

Strauss, wat navorsing lei oor bewaringslandbou ('n prioriteitsprojek van die Wes-Kaapse SmartAgri-plan), sê dat die boere wat van konvensionele na volhoubare boerdery oorgeskakel het, tussen 2002 en 2020 die Wes-Kaap van ongeveer R440 miljoen in omgewingskade gespaar het. 'Die 3 boublokke van volhoubare boerdery – minimale grondversteuring, biodiversiteit deur wisselbou, en bedekking van die grond met lewende gewasse of oesreste – is eenvoudig en kostedoeltreffend op die langtermyn. Die resultaat is 'n geïntegreerde stelsel wat groter grondveerkragtigheid verseker en sodoende water- en kunsmisverbruik, waterafloop en grond-erosie verminder; en ook groter opbrengskonsekwentheid, veerkragtigheid teen droogteperiodes en verminderde kapitaal- en bedryfskoste tot gevolg het. Interessant genoeg, op plase waar hierdie beginsels toegepas word, is daar bewyse dat die grond veerkragtigheid bou as jy die oesopbrengste en herstelperiodes van die erge droogtes van 2015, 2017 en 2019 met mekaar vergelyk.

 

Tegnologie help om meer volhoubare boerdery moontlik te maak.

Nog ’n punt waaroor die paneel saamgestem het, is die rol van innovasie en versameling van groot data om boere in staat te stel om met minder hulpbronne steeds meer te produseer en volhoubaar te boer.

Southey glo dat dit nou belangriker as ooit tevore is om data te gebruik om besluite te neem en planne te beraam om by klimaatsverandering en markverskuiwings aan te pas en die impak te versag. Sy het TerraClim gestig terwyl sy navorsing vir haar PhD in wingerdbou en klimaatsverandering gedoen het, en ontdek het dat daar onvoldoende klimaatsdata beskikbaar was. Sy fokus nou daarop om 'n geïntegreerde klimaat-, geografiese inligtingstelsel-, afstandswaarneming- en gewasdatabasis te bou om boere en beleidmakers van hierdie noodsaaklike inligting te voorsien.

'In vennootskap met Metos SA het ons nou 'n bykomende 200 weerstasies wat strategies regoor die Wes-Kaap geplaas is, wat voortdurend meet[JO1]  terwyl TerraClim inligting versamel oor verskeie faktore, soos uurlikse temperature, sonstraling en hidrologieprofiele om net 'n paar te noem,' sê sy. 'TerraClim integreer verskeie weerstasienetwerke om die gapings aan te vul om 'n robuuste, volledige stel data te bou wat van onskatbare waarde is om die veranderende omgewing op 'n uurlikse basis te ontleed. Dit help weer boere in die streek om die veranderinge wat hul oeste ondergaan te verstaan en sodoende ingeligte besluite te neem om aan te pas.'

Ferreira stem saam dat tegnologie 'n groot rol speel om opbrengste te verbeter en ingeligte besluite te neem. 'Toe ek in die 1980's in die suiwelbedryf begin werk het, was daar meer as 28 000 melkboere in Suid-Afrika. Daar is nou minder as 900 – maar hulle produseer meer melk met minder koeie as daardie duisende boere in die 80's. As gevolg van tegnologie – spesifiek genetika in hierdie geval – produseer elke koei tot 50 liter melk per dag, teenoor die destydse 5 tot 10 liter. Daar is deesdae soveel innovasies, soos koeibestuurstelsels, gedigitaliseerde melkstalstelsels en genomika-innovasies wat beter teeluitkomste dryf. Dit alles gee melkboere die voorsprong om hul opbrengste te maksimeer en hul diere beter te versorg.'

 

Ons almal het 'n rol.

Fuller is 'n passievolle voorstander van volhoubare boerdery, wat volgens haar 'n beweging na 'n meer versorgende praktyk behels. 'Boere verstaan maklik die voordele daaraan verbonde om saam met Moeder Natuur te werk – amper soos met 'n sakevennoot – en hul rol as 'n bewaarder vir die dienste wat die natuur lewer. Binne hierdie konteks, en met inagneming van steeds toenemende insetkoste, maak die winsgewendheidsfaktor die besluit om na volhoubare boerdery oor te skakel soveel makliker en ek is bly om te kan sê dat dit vir hulle belangriker as die telkaart is,' sê sy.

'Maar dit gaan nie net oor wat boere moet doen nie. Ek sien die publiek minder as verbruikers en meer as ondersteuners: Met elke aankoop kies ons om volhoubaarheid te ondersteun of nie. Dit is regtig so eenvoudig.'

Archived Posts

2023 (1)
2022 (1)
2021 (1)
2020 (1)
2019 (1)
2018 (1)
2017 (1)
Nedbank