Skip to main content
SIYABONGA-dag

Mediavrystelling: Siyabonga Dag Gesels Saam Oor Geleenthede In Die Wynbedryf

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf beleef tans ongekende uitdagings, maar laagtepunte bied dikwels ook geleenthede vir groei. Dít is die tema van Agri-Expo se eerste SIYABONGA-dag vir 2021, wat volg op die sukses van hulle eerste drie SIYABONGA-dae wat in 2020 aangebied is. 

Die Wellington SIYABONGA-dag vind op Woensdag 31 Maart by Thokozani Konferensies op Diemersfontein Wine and Country Estate plaas, maar word regstreeks uitgesaai sodat landbouers en aspirantboere van oraloor kan deelneem.

 

SIYABONGA skep ‘n innoverende platform vir die landbougemeenskap om saam te kan gesels oor uitdagings én geleenthede in die bedryf, sê Breyton Milford, Operasionele Bestuurder van Agri-Expo. “Die SIYABONGA-dae gee basiese landbou-inligting deur in ‘n unieke formaat waar landbouers ‘n platform met kenners in die bedryf deel, die geleentheid kry om vrae te vra en sodoende hul kennis verbreed om uiteindelik meer produktief te wees.”

 

Volgens Milford is die woord SIYABONGA, wat dankie beteken, ook ‘n akroniem vir “Sharing Information to improve Yields in Agriculture for a Better-Off Next Generation of Agriculturalists”: “Ons programinhoud fokus op sleutelfaktore wat die landboubedryf kan versterk, waaronder die betrokkenheid van vroue, geleenthede vir jongmense, bemagtiging, asook alternatiewe maniere van dink en doen.” 

 

Vier kundiges sal tydens die Wellington SIYABONGA-dag raad en insig oor bemagtiging in die bedryf asook oor geleenthede vir vroue en jongmense deel:

  • Die veelbekroonde Denise Stubbs, besturende direkteur van Thokozani Wines, sal gesels oor transformasie in die bedryf. Thokozani Staff Holdings, ‘n bemagtigingsonderneming wat deur 65 werknemers van Diemersfontein besit word, het onlangs die meerderheidsaandeelhouer van die Diemersfontein-handelsmerk geword.
  • Wendy Petersen, operasionele bestuurder van die SA wynbedryf-transformasie-eenheid (Sawitu), sal ‘n toekomsvisie vir ‘n inklusiewe bedryf deel. Petersen het meer as 27 jaar se ervaring in die wynbedryf. By Sawitu fokus sy daarop dat ondernemings en boerderye in swart besit die nodige mentorskap, befondsing, bemarking en tegniese ondersteuning ontvang om te verseker dat hul ondernemings volhoubaar is.
  • Inspirasie kom van die 24-jarige Kelsey Shungking, wat die afgelope drie jaar ‘n protégé is van die Kaapse Wynmakersgilde. Shungking, wat tans ‘n internskap by Mullineux & Leeu Family Wines doen, sal gesels oor haar ervaring van geleenthede vir vrouewynmakers.
  • Brenton Maarman, dosent in mikrobiologie en wingerdkunde by Elsenburg Landbou Opleidingsinstituut, sal fokus op opleiding- en loopbaangeleenthede vir jongmense. Maarman was in 2011 ‘n ontvanger van die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-beurs as BSc Agric-student in wingerd- en wynkunde aan Stellenbosch Universiteit waar hy ook ‘n meestersgraad  in wynmikrobiologie verwerf het.

 

Die SIYABONGA-dae word met die ondersteuning van die Wes-Kaapse Departement van Landbou aangebied, met wie Agri-Expo reeds sedert 2014 saamwerk om veral kleinboere in die Wes-Kaap van inligting te bedien. "As die Wes-Kaapse Departement van Landbou, wil ons graag die nodige ondersteuning aan ons boere bied om produktiwiteit te verbeter en voedselsekerheid te verseker," sê dr Mogale Sebopetsa, die departementshoof. “Die landbousektor is die sonskynsektor wat die sleutel is tot die ekonomiese herstel van nie net die Wes-Kaap nie, maar ook vir Suid-Afrika. Die SIYABONGA-dae skep ‘n ideale platform om meer mense met hierdie boodskap te bereik.”

 

Slegs ‘n beperkte aantal persone kan die geleentheid op die dag bywoon weens Covid-19-regulasies, maar belangstellendes kan van 10:00 tot 13:00 gratis aanlyn inskakel, vrae vra en deel wees van die gesprek deur te registreer by www.siyabongadays.co.za.

 

Die program word in Engels aangebied, maar vrae kan ook in Afrikaans gestel word. Opnames van vorige SIYABONGA-dae is steeds gratis beskikbaar by www.agriexpo.co.za en www.livestock.org.za. Vir meer inligting, kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za en volg @AgriExpo1 op sosiale media.

 

Foto-onderskrifte:

Foto 1: Die protégé-wynmaker Kelsey Shungking is ‘n spreker by Agri-Expo se Wellington SIYABONGA-dag wat gratis aanlyn bygewoon kan word.

 

 

 

Foto 2: Wendy Petersen, operasionele bestuurder van Sawitu, sal ‘n toekomsvisie vir ‘n inklusiewe wynbedryf deel by Agri-Expo se Wellington SIYABONGA-dag wat gratis aanlyn bygewoon kan word.

 

 

 

UITGEREIK DEUR

Isabeau Botha

Korporatiewe Kommunikasiebestuurder
Agri-Expo
isabeau@agriexpo.co.za
021 975 4440
072 247 5868
www.agriexpo.co.za

 

Archived Posts

2024 (1)
2023 (1)
2022 (1)
2021 (1)
2020 (1)
2019 (1)
2018 (1)
2017 (1)
SIYABONGA-dag | Wyn | Wynbedryf