Skip to main content

Landbou Het Betekenisvolle Samewerkig Nodig Om Te Floreer

Daneel Rossouw, Hoof van Landbouverkope by Nedbank Kommersiële Banksake

 

Landbou is 'n komplekse besigheid wat deur verskeie uitdagings geraak word. Baie van dié uitdagings is buite produsente se beheer, en dit is duidelik dat alle belanghebbendes saam moet werk om hierdie uitdagings die hoof te bied. Samewerking het beslis 'n rimpeleffek en versterk almal se pogings om beter resultate te lewer.

Hierdie filosofie is ook die ruggraat van talle waardes waarmee Nedbank hom vereenselwig. Ons besef dat, as 'n bank, ons 'n verpligting en verantwoordelikheid het om ons lenings in te span om verandering te dryf, maar ons glo ook dat ons rol verder strek as om bloot die oorgang na 'n meer veerkragtige, volhoubare en getransformeerde landbousektor te finansier. Alhoewel ons trots is daarop dat ons kernbesigheid aangewend word om die evolusie te dryf, maak ons erns daarmee om invloedryke vennootskappe te bou met bewese organisasies wat op volhoubare landbou, rentmeesterskap, transformasie, asook onderrig en opleiding fokus.

 

Daad by die woord

Volhoubaarheid in alle sfere, veral met betrekking tot klimaatsverandering, is die spil waarom alles vir ons draai. Daarom werk ons saam met sleutelbelanghebbendes om die sektor volhoubaar en klimaatbestand te maak. Deur die WWF Nedbank Green Trust het ons 'n dekadelange vennootskap met WWF-SA en werk ons saam aan vele projekte wat die landbousektor raak. 'n Goeie voorbeeld is ons Foraging for Life-projek, wat die aanplant van inheemse plantegroei behels om biodiversiteitsbewaringsgebiede uit te brei, voerplekke te vergroot en habitatverlies vir bye te verminder.

Byebevolkings toon 'n ontstellende afname, en plaaslike heuningproduksie het die afgelope dekade met meer as 50% afgeneem. Daar is verskeie redes, insluitend plaagdoders, droogte, habitatvernietiging, voedingstekort, lugbesoedeling en klimaatsverandering. Baie van dié oorsake hou met mekaar verband en gevolglik word daar nie in die bestuiwingsbehoeftes van ons landboubedryf voorsien nie. 'n Oplossing hiervoor is van kardinale belang vir Suid-Afrika.

Nog 'n bygefokusde projek waarby Nedbank betrokke is, is die Boland Forests for Life-projek in vennootskap met Boland Kelders, wat saam met Greenpop werk om teen 2025 'n totaal van 36 000 byvriendelike bome in Gansbaai in die Wes-Kaap te plant. Deur uitheemse plantegroeibestuur, natuurlike regenerasiebestuur, en die aktiewe aanplanting van inheemse boomsaailinge, is die verwagte uitkomste van die projek die versagting van klimaatsverandering, verbeterde grondkwaliteit en -stabiliteit, verhoogde spesie-biodiversiteit, verminderde uitheemse indringerplantegroei en verhoogde gemeenskapsinkomste.

 

Rentmeesterskap en transformasie is sleutelfokuspunte

Met die oog op volhoubaarheid het Nedbank ook vir die afgelope 5 jaar 'n vennootskap met die Melkprodusente-organisasie aangegaan ten opsigte van sy rentmeesterskaptoekennings om erkenning te gee aan melkboere wat uitstekende rentmeesters van hul melkboerderye is. Vanjaar se MPO-rentmeesterskaptoekenning sal by Nampo Kaap aangekondig word. Wees op die uitkyk vir die aankondiging.

Nedbank het ook die Veeplaas Climate-smart Ambassadeur-projek sedert sy ontstaan verlede jaar geborg. Soortgelyk aan die MPO-rentmeesterskaptoekennings gee dit erkenning aan veeprodusente wat passievol is oor die bewaring van hul grond en hulpbronne en klimaatslim boerderypraktyke op hul plase implementeer.

Volhoubaarheid beteken natuurlik ook om die sektor te transformeer deur opkomende swart boere te bemagtig, en Nedbank se strategie om verandering te dryf het daartoe gelei dat die bank sy vennootskap met South African Partners in Agri Land Solutions (SA PALS) by Nampo Kaap in September 2022 bekend gestel het. SA PALS is 'n nie-winsgewende organisasie wat deur boere, in samewerking met plaaslike gemeenskappe, ontwikkel is om opkomende swart boere te voorsien van die ondersteuning, insig en kundigheid wat hulle nodig het om as kommersiële boere te floreer. Die organisasie en sy werk verteenwoordig 'n fundamentele afwyking van post-grondhervormingsmodelle deur volhoubare landboupraktyke en -benaderings te bou,deur middel van gesonde sakebeginsels, regstrukture en opleiding.

 

Nedbank is by Nampo Kaap.

Onderrig, kennisontwikkeling en opleiding gaan hand aan hand met transformasie en die bevordering van die landbousektor. Daarom het Nedbank met die Wes-Kaapse Departemente van Onderwys en Landbou saamgespan om vanjaar 350 graad 11-leerders by Nampo Kaap te verwelkom. Die Nedbank Landbouskoleprogram sal deelnemers meer leer oor vertikale boerderystelsels, groenteverbouing, genetiese uitnemendheid en teelbeplanning, die rol van die Departement van Landbou in volhoubare landbousake, asook loopbaangeleenthede en studierigtings in die veld.

Soos altyd is Nedbank ook 'n borg van die Nasie in Gesprek-paneelbesprekings by Nampo Kaap, waar denkleiers en kundiges in die bedryf bymekaar kom om insiggewende gesprekke te voer oor die uitdagings en geleenthede wat die landbousektor in die gesig staar. Nedbank sal om 10:00 op Vrydag, 16 September, 'n gesprek oor klimaatsbestandheid en rentmeesterskap op die Nasie in Gesprek-verhoog aanbied en sal om 10:00 op Woensdag, 13 September, aan die 'Handelsverhoudinge onder die loep'-debat deelneem.

 

Kom kuier by die Nedbank-stalletjie by Nampo Kaap in Bredasdorp vanaf 13 tot 16 September, ontmoet ons landbouspesialiste en gesels saam oor hierdie belangrike onderwerpe. Die media kan landboukommunikasiespesialis Gillian Gernetzky by 082 892 8378 of gillian@percheron.co.za kontak.

Archived Posts

2024 (1)
2023 (1)
2022 (1)
2021 (1)
2020 (1)
2019 (1)
2018 (1)
2017 (1)
Nedbank agriculture